logo banner png

  • Breathtaking Surroundings
  • Host to actuality program Pasella
  • History in the making
  • World Class Mountain Bike Trails

Tiende geslag Retiefs sit Welvanpas se ryk geskiedenis voort

Retha en Dan Retief voor Die Ou Meul op Welvanpas.

Daar is min plase waar die huidige boer kan spog dat hy die tiende geslag van sy familie is wat na die grond omsien ... en dat die plaas al meer as 305 jaar in die familie se besit is! Daar is selfs minder wat in sy familiegeskiedenis kan terug kyk en met trots kan noem dat ‘n groot en bekende familielid soos die Voortrekker-leier Piet Retief een van sy voorvaders is.

Wel, Daniel Pieter Johannes Retief (beter bekend as Dan) van Welvanpas buite Wellington kan dit doen. En Dan kan Welvanpas se geskiedenis sover terug vat as 1704! En hy doen dit met trots en dieselfde eerlikheid as wat jy in Welvanpas se wyne vind.

Maar voordat ek verder vertel van die Retiefs en Welvanpas, die week waarin ek Welvanpas besoek het, het ek die voorreg gehad om Hyundai se jongste geslag Elantra te toetsbestuur, die 1.8 GLS Outomaties. Ek het nie veel verwag nie, maar boeta, was ek verkeerd! Lees gerus my ry-indrukke by http://planeetwyn.co.za/node/3390 en dan sal jy miskien verstaan hoekom hierdie kalant sowel Amerika as Suid-Afrika se Motor van die Jaar is.

Oukei, terug na Welvanpas en die Retiefs. In 1699 het die Fransman, Pierre Mouy, met sy twee dogters op die Donkervliet by die Kaap die Goeie Hoop aangekom. Hy, sy vrou en die kinders het Frankryk verlaat weens godsdienstige vervolging, maar sy vrou is vermoedelik op die reis oorlede. In 1704 is die grond by Wellington, wat hy De Krakeelhoek gedoop het, aan hom toegeken, maar dit was na ‘n hewige stryd met ‘n buurman, Jan Louwrens, wat ook agter die grond was. De Krakeelhoek beteken stry, twis of dispuut, met verwysing na die stryd met Louwrens.

cellarLinks: Dan se pa in die kelder op Welvanpas.

Pierre se oudste dogter Marie is op 2 Mei 1700 met die 37-jarige Francois Retief getroud, twee weke voor haar 15de verjaarsdag. Retief was ook ‘n Franse Hugenoot en het op sy eie op La Paris in Drakenstein geboer. Francois en Marie was dus die stigters van die Retief-dinastie in Suid-Afrika.

Marie het De Krakeelhoek in 1725 geërf en dit probeer verkoop. Na vele probeerslae is die plaas aan ene Lategan verkoop. In 1780 het Pierre se agterkleinseun, Jacobus, die derde geslag Retief, die plaas terug gekoop. Hy en Deborah was Piet Retief van Groot Trek-faam se ouers. Piet is op die plaas gebore en het tot op 26-jarige ouderdom daar gebly.

Dan vertel dat daar van vroeg af wingerd op die plaas aangeplant en wyn gemaak is. “Die eerste kelder is vroeg in die 1800s gebou, maar daar is van die begin af wyn gemaak. Ek het my eerste wyn in 1993 gemaak.”

Bo: Omring deur majestieuse berge en 'n golwende landskap, bied Welvanpas nie net die ideale terroir vir puik wyn nie, maar ook die regte landskap vir lekker stap of bergfietsry.

Welvanpas, wat in die skadu van die Bainskloofpas, die Hawekwa en die Groenberge lê, is sowat 260 hektaar groot waarvan sowat 50 hektaar onder wingerd is. Benewens wyndruiwe boer Dan ook met sitrusvrugte, groente en proteas, en aan sy sy is die pragtige Retha. Hulle het ‘n klein wonderwerkie in Suzanne wat net meer as ‘n jaar gelede vir die eerste keer die lig gesien het.

Dan het wingerdbou en wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, en hoewel die ou kelder op Welvanpas intussen opgeknap en vernuwe is, word baie tradisionele metodes steeds gebruik. Dis nie dat Dan nie glo in moderne wynmaaktegnieke nie, maar “ek glo maar dat wyn in die wingerd gemaak word. Jy kan nie goeie wyn van slegte druiwe maak nie”.

Dan maak op ‘n boetiekgrondslag wyn en daar’s tans vyf wyne onder die Welvanpas-handelsmerk, naamlik Amity, ‘n wit versnit van chardonnay en chenin blanc, ‘n rosé gemaak van pinotage-druiwe, ‘n Cabernet Sauvignon, ‘n Shiraz en die De Krakeelhoek Rood, ‘n rooi versnit van merlot en shiraz. En die wyne is nes Dan en Retha, eerlik en opreg, sonder enige fieterjasies, en hulle bied puik waarde vir geld. Hul pryse wissel van R38 vir die wit versnit en die rosé tot R80 vir die 2009- Shiraz.

Bo: Die 1938-trek! Hierdie geskiedkundige foto is voor die herehuis op Welvanpas geneem waar Dan se ma steeds bly.

Welvanpas gaan egter oor meer as geskiedenis en wyn. Hier’s ook ‘n koffiewinkel, Die Ou Meul, waar jy nie net jou innerlike behoeftes kan bevredig nie, maar jy kan ook hier Welvanpas se wyne proe en plaaslike produkte koop. Die Ou Meul maak ook voorsiening vir onthale en middagetes vir groepe, en is oop Dinsdag tot Donderdag van 8vm tot 5nm en Saterdag en Sondag van 7:30vm tot 3nm in die somer en van 8:30vm tot 3nm in die winter.

En dan kan jy ook hier permitte koop vir die drie bergfiets- en staproetes op en om die plaas. Altesaam is die afstand sowat 61 km, maar hulle is onderskeidelik 15 km, 17 km en 29 km lank, en daar is drie verskillende moeilikheidsgrade vir die adrenalienverslaafdes.

En die Retiefs verwag om eersdaags ook heerlike en regte, egte plaasverblyf aan te bied in 4 en-suite dubbelkamers met kombuisgeriewe.

 


 

This was an excerpt from Planeetwyn

 

Read the article featured in "Die Burger"

click to download PDF

 

Dagbreek het in Parstyd gaan inloer by Welvanpas naby Wellington.

 

click image to view video

 

Recent Articles

Dagbreek: Parstyd - Welvanpas

Dagbreek het in Parstyd gaan inloer by W

"Die Burger" Article

Read the article featured in "Die Burger

"Planeet Wyn" writes the following:

Tiende geslag Retiefs sit Welvanpas se r

Welvanpas on TV - Click on pic to view more


PasellaTimotei TV AdTimotei TV AdPasellaTimotei TV Ad
You are here:   Homemedia

Share This Website